Marianne van Niekerk

Marianne vertel: “Van kleinsaf het ek met n teesiffie as mikrofoon tussen my ma se roosbome geloop en boodskappe uitgesaai vir “siekes” of “verjaardag-mense””. Marianne het ‘n ingebore passie vir die uitsaaiwese, haar mense en haar Skepper en is ‘n veelsydige mens met baie deugde. Sy het op Stellenbosch BA-tale gestudeer en ook ‘n Hoër Onderwysdiploma verwerf. By die Universiteit van die Vrystaat verwerf sy haar MA-Graad in Letterkunde. Tot en met 2016 was sy Departementshoof – Tale by die Hoërskool in Kuruman en sy was ook vir 7 jaar Senior Nasiener op Matriekvraestelle by die Onderwysdepartement. Vir 9 jaar het sy die FSA Youth Exchange na Duitsland hanteer en het in 2015 as Jeug Groepleier saam met die leerders na Duitsland en Switserland gereis.

Dit was ook Marianne se verantwoordelik om die jaarlikse Matriekafskeid Funksie asook die Skouspel-aand by die Hoërskool Kuruman te hanteer en sy was selfs Tromppoppies Afrigter by die Universiteit van die Vrystaat wat in 1996 die eerste plek by die SA’s verower het. In 1983 het haar loopbaan as omroeper begin toe sy as een van 10 finaliste uit ‘n groep van 560 deelnemers by die SAUK se Goue Stem Wedstryd aangewys is. In 2011 het sy een middag saam met Amore Bekker Tjailatyd aangebied en dis waar haar liefde vir omroeperswerk amptelik posgevat het. Vir 2 jaar het sy dan ook as omroeper by ‘n Gemeenskaps Radiostasie in die Noord-Kaap uitgesaai waarna sy in Desember 2016 by Sonskyn Radio aangesluit het. Die afgelope paar jaar het Marianne baie harte gesteel in die Weskus sien sy uit daarna om jou te vermaak op JOU STASIE! “Ek sien met groot verwagting uit na lekker saamkuier op JOU STASIE! Mense is my energie en kerrie-afval met n laaang sous en stampmielies is koningskos!”

Marianne vermaak jou elke oggend op die Opstaan-Tyd Ontbyt Program saam met Dirk Gallowitz vanaf die Vredenburg Ateljee!

Share This