Bardine Swanepoel de Villiers

Bardine Swanepoel de Villiers

Bardine Swanepoel De Villiers, oftewel Tweety is ‘n gebore en getoë Namakwalandse kaalvoetkind. ‘n Absolute voorreg om groot te kon word in ‘n huis waar ons geleer is van waardes en naasteliefde – ek het ‘n dankbare hart vir my ouers wat my geleer het dat daar geen groter rykdom is – geen geld betrokke nie – as jou kinders.

In my huishouding is daar twee pragtige seuns, my sout- en peperpot. Intussen ook twee bonus kinders bygekry. My grootste geskenk ooit is, my pragtige kleinseun, verseker Ouma se Botter-bekkie-liefie.

Hondekind, Dimpels (‘n Shar-Pei), is deel van ons uitgebreide familie en natuurlik is ek nou in daardie stadium waar ek soos my dierekind begin lyk… rimpels en plooie, al smeer jy ook watter roompie aan, kreukelrig sal ons word.

Loopbaangewys was dit nog altyd finansies en kinders/studente. Skop my grootmens lewe af in Eerste Nasionale Bank en vat toe die lewenstoer na Departement Landbou & Visserye en daarna het ek gaan vashaak by die verskillende fasette van Onderwys – van laerskole tot tersiêre instellings. Die pragtige Bolandse dorp, Stellenbosch is al die afgelope 24 jaar my werkstuiste.

As gevolg van my groot liefde vir engiets met wiele, natuur en kuns, sal jy my altyd kry met ‘n boek, kospotte en glasflesse, hekelpen of breinaalde, ‘n verfkwas of potlood in die hand met die klank van een of ander enjin in die agtergrond – en natuurlik kaalvoet. Ek is mal daaroor om met my hande te skep.

‘n Droom het waar geword toe ek in 2016 by Radio Disa die geleentheid gegun was om deel te word van uitsaaiwese. Na 6 jaar was ek so bevoorreg om deel te word van die Jou Stasie familie. My wens is om deel te wees van vrolikheid, vreugdes, glimlagte wat net nie verdwyn nie – trane wat afgevee kan word met ‘n glimlag en natuurlik die boodskap van hoop wat uitgedra word.

As ek een ding deur my lewensreis geleer het, is dit dat daar soveel emosionele stukkende mense en intense kwessies in ons lewens is. Ek strewe daarna om my medemens te probeer verstaan en met respek te hanteer. Verken die harte – voldoen aan hulle behoefte.

Share This